SA se nuwe kripto-regulasies fokus op deviesebeheer
Daar is tans massiewe verskuiwings besig om op plaaslike bodem plaas te vind aangaande die wetgewing van digitale bates. Volgens ‘n verslag deur die Sunday Independent, is die regering besig om ‘n konsep-wetsontwerp (die “Flow Management Regulations”) in te stel wat spesifiek gemik is op deviesebeheer en die oorgrens-beweging van kripto.
Wat stel hierdie nuwe regulasies presies voor? Tradisioneel het Suid-Afrikaners ‘n Enkel Diskresionêre Toelae (“Single Discretionary Allowance”) van R1 miljoen per jaar wat hulle wetlik oorsee mag stuur. Omdat blokkettingtegnologie geen grense ken nie, was dit in die verlede moeilik vir die Reserwebank om te monitor hoeveel kapitaal die land in die vorm van kripto verlaat. Die nuwe wetsontwerp stel voor dat enige oordrag van kripto-bates vanaf ‘n Suid-Afrikaanse entiteit na ‘n buitelandse beurs of adres amptelik opgeteken moet word en afgetrek moet word van daardie persoon se buitelandse toelae.
Plaaslike kripto-platforms sal wetlik verplig word om as polisiemanne op te tree en hierdie transaksies stiptelik by die owerhede aan te meld, anders staar hulle massiewe boetes in die gesig.
BitBok se Gedagtes:
- Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat die Reserwebank die “agterdeur” van kapitaaluitvloei wou toemaak.
- Hierdie nuus beklemtoon hoekom ‘n mens kripto moet sien as ‘n langtermyn bate eerder as net ‘n voertuig vir buitelandse valuta.
- Vir die gewone belegger wat hul kripto op ‘n private, hardeware-beursie in Suid-Afrika stoor, verander daar basies niks nie.
