Nuwe reëls en regulasies vir kripto-bates op pad na Suid-Afrika
Die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) het ‘n nuwe konsep-handleiding vir oorgrens-kriptotransaksies vir openbare kommentaar vrygestel. Hierdie regulasies is daarop gemik om nakoming en monitering van oorgrens-kapitaalvloeie te versterk. Die regulasies tree in werking wanneer kripto-bates tussen ‘n plaaslike gemagtigde kriptodiensverskaffer (CASP) en ‘n buitelandse CASP, óf van ‘n plaaslike CASP na ‘n private (non-custodial) beursie verskuif word. Vir eers sal slegs individue toegelaat word om kripto-bates na die buiteland te skuif via hul buitelandse kapitaaltoelaag (soos die enkel diskresionêre toelae).
Dié stap volg na vroeëre regulasies, wat kritiek ontlok het dat dit oorgrens-handel as krimineel beskou, en is veronderstel om as bykomende raamwerk te dien. Die regering sê hierdie is slegs die eerste fase van regulering, en hoewel dit transaksies strenger sal dophou, word kripto nog steeds nie as ‘n amptelike geldeenheid beskou nie.
Wat sê BitBok:
- Tesourie en SARB stel nuwe reëls voor om oorgrens-kriptovloeie strenger te reguleer en te monitor.
- Die verskuiwing van munte na buitelandse platforms of na eie private beursies sal aanmeldingspligtig wees.
- Dit vorm deel van ‘n groter poging om ongereguleerde finansiële vloeie te bekamp sonder om kripto onmiddellik as amptelike betaalmiddel te verklaar.
