Skokverslag onthul 100 Noord-Koreaanse spioene in kripto-bedryf
In ‘n onthulling wat klink asof dit uit ‘n Hollywood-spioenasieriller kom, is gevind dat die kripto-bedryf onder ernstige aanval van binne af is. ‘n Gespesialiseerde sekuriteitsprogram, wat onder meer deur die Ethereum-stigting gerugsteun word, het daarin geslaag om ‘n massiewe netwerk van misdadigers bloot te lê.
Daar is bevind dat bykans 100 Noord-Koreaanse operateurs bedrieglike identiteite geskep het om as hoogs-gekwalifiseerde tegnici of werknemers by prominente kripto-firmas, platforms en beurse aansoek te doen en aangestel te word. Hierdie infiltrasie het ‘n baie spesifieke doel: om sekuriteitstelsels van binne te kompromitteer en massiewe bedrae digitale bates en fondse buit te maak om die land se sanksie-geteisterde ekonomie te finansier.
Wanneer hierdie kuberkrakers toegang tot sentrale beurse kry, loop die platforms se kliënte-fondse enorme gevaar. Hierdie skokkende nuus is ‘n tasbare herinnering dat sentrale punte (soos beurse waar jy jou kripto stoor) altyd die grootste teikens vir wêreldklas-misdadigers sal wees.
Wat sê BitBok:
- Die aanvalle teen die kripto-industrie word daagliks meer gesofistikeerd as dit state is wat daaragter sit.
- ‘n Beurs mag dalk goeie brandmure hê, maar as die vyand reeds as ‘n tegnikus binne-in die maatskappy werk, is daardie brandmure nutteloos.
- Die enigste manier om as verbruiker jouself heeltemal te vrywaar van sulke aanvalle, is om nooit jou fondse op ‘n ander instansie se platform te los nie.
