Bitcoin verander hoe mense hul geld bestuur. Van oorbetalings tot langtermynbesparings, dit bied ‘n kragtige instrument vir finansiële vryheid. Maar hierdie vryheid hou risiko’s in, veral vir beginners. Kuberkrakers is altyd op die uitkyk vir swak plekke.
In 2022 alleen is meer as US$3,8 biljoen se waarde in kripto gesteel. In 2024, het die aantal “hacks” gelukkig gedaal na US$2,2 biljoen. Tot op datum altesaam? ‘n kommerwekkende hoë bedrag van oor die US$7,7 biljoen in kripto-geldeenhede!
As jy Bitcoin besit of dit oorweeg om ‘n paar te koop, sal hierdie gids jou wys hoe om dit veilig te stoor en jouself teen kuberbedreigings te beskerm.
Die Belangrikheid van Bitcoin Sekuriteit
Om Bitcoin te besit is soos om digitale goud te hou. Maar sonder die regte sekuriteitstappe kan jy alles binne sekondes verloor. Om jou Bitcoin te beskerm is nie net slim nie—dit is uiters noodsaaklik.
Waarom Bitcoin Sterk Beskerming Benodig
Bitcoin loop op ‘n stelsel genaamd die blokketting of “blockchain”. Dit is ‘n veilige digitale grootboek wat transaksies aanteken. Die stelsel self is baie veilig, maar jou Bitcoin is net so veilig soos A: wat jou beursie is, en B: hoe jy jou sleutels bestuur.
Mense verloor gewoonlik Bitcoin as gevolg van menslike foute, swendelary, “hacks”, bedrog, of swak beursie-sekuriteit, nie as gevolg van probleme met die blokketting nie.

Groot “2024 Attack Vectors” Waarvan Jy Moet Weet
In 2024 het die grootste bedreiging in die ketting gekom van kwesbaarhede in slim kontrakbrûe—stelsels wat verskillende blokkettings verbind. Hierdie brûe is geteiken in ‘n reeks hoë-profiel sisteme en toepassings met die hulp van AI-gedrewe “hacks” waarvan een gelei het tot meer as US$800 miljoen se verliese!
Die “2024 Attack Vector” is een van baie groot kripto “hacks” en rooftogte waarvan jy moet weet voordat jy in Bitcoin belê. Hierdie aanvalle beklemtoon dat selfs tegnologie-vaardige gebruikers onkant gevang kan word. Daarom is basiese beursie-veiligheid steeds jou beste verdediging.
Vanaf 2014 tot op datum is groot uitruil platforms soos Mount GOX (altesaam ongeveer BTC 850,000) en Bybit (ongeveer ETH 400,000) gekap. Bedrieglike aktiwiteite het die FTX platform laat ineenstort en US$477 miljoen van beleggers se geld afgeneem.
Bitcoin en ander kripto-geldeenhede se krag lê in jou hande. Jou beursie en private sleutels het net soveel beskerming nodig as jou werklike waardevolle items.

Beste Praktyke om Jou Bitcoin-Beursie te Beveilig
As jy ernstig is oor Bitcoin, het jy ernstige sekuriteit nodig. Of jy nou ‘n beginner is of reeds Bitcoin besit, sal hierdie vyf wenke jou help om veilig(er) te bly:
1. Gebruik Koelberging vir Langtermyn Berging
- Koue beursies (vanlyn beursies) koppel nie aan die internet nie. Dit maak hulle baie moeilik om te ”hack”.
- Koppel net jou koue beursie wanneer jy Bitcoin moet stuur of ontvang.
- Belê in hardeware met NFC (Near Field Communication” of Naandieveld-KommunikasieT egnologie) waarmee jy direk kan handel.
Koue beursies is ideaal om groot hoeveelhede Bitcoin te stoor en te bewaar. Hulle is soos digitale kluise, net baie kleiner.
2. Gebruik Slegs Warm-Beursies vir Daaglikse Transaksies
- Warm-beursies is aan die internet gekoppel en is maklik om te gebruik.
- Hou net klein hoeveelhede Bitcoin in jou warm-beursie, genoeg vir daaglikse gebruik.
- Gebruik betroubare kripto-uitruilings, soos VALR, Luno, en Binance.
- Kies nie-toesighoudende beursies soos Exodus, MetaMask, en Trust Wallet.
Skuif altyd jou oorskiet Bitcoin terug na koelberging sodra jy klaar is met ‘n transaksie.
3. Rugsteun Alles Veilig
- Rugsteun jou beursie se datalêers en private sleutels.
- Stoor jou rugsteun op ‘n USB, eksterne hardeskyf, of CD.
- Hou veelvuldige kopieë op verskillende veilige plekke.
4. Beskerm Jou Saadfrase
- ‘n Saadfrase is ‘n lys woorde waarmee jy jou beursie kan herwin.
- Skryf dit neer en bêre dit op ‘n veilige plek.
- Oorweeg dit om ‘n metaalplaat of titaniumkaart te gebruik vir ekstra duursaamheid.
5. Enkripteer Jou Kripto-Beursie
- Gebruik sterk en unieke wagwoorde.
- Aktiveer enkripsie (2FA) op jou beursie en rugsteun.
Deur hierdie wenke te volg, kan jy jouself red van massiewe verliese en jou kripto-geldeenhede beskerm.

Algemene Bitcoin Sekuriteitsbedreigings
Daar is baie maniere hoe kuberkrakers en swendelaars kan probeer om jou Bitcoin te steel. Kom ons breek hulle een vir een af sodat jy weet waarvoor om op te let.
Uitvissing-Aanvalle/”Fishing Attacks”
Uitvissing vind plaas wanneer ‘n kuberkraker jou mislei om jou aanmeld besonderhede of sleutels weg te gee. Hulle kan vals e-posse stuur of vals webwerwe skep. Hier is wat jy moet weet:
- Moet nooit op onbekende skakels klik nie.
- Kontroleer altyd die webwerf-URL voordat jy aanmeld.
- Wees versigtig vir e-posse van onbekende organisasies.
Wanware (“Malware”) en “Keyloggers”
Kwaadwillige sagteware kan naspoor wat jy tik of jou lêers steel. Vermy hulle soos volg:
- Gebruik betroubare antivirus sagteware.
- Moenie onbekende programme of blaaier-inproppe installeer nie.
- Gaan gereeld jou rekenaar of toestel na vir kwaadwillige sagteware.
Vals Beursie-Toepassings en QR-Opwekkers
Sommige vals toepassings steel jou private sleutels sodra jy dit invoer. Hier is hoe om hierdie bedreiging te vermy:
- Laai slegs betroubare beursies van amptelike bronne af.
- Vermy die gebruik van QR-kode opwekkers van webwerwe.
- Doen navorsing voordat jy ‘n kripto-uitruil of aanlyn kripto-beursie kies.
Vertrou net gelisensieerde en betroubare uitruilplatforms wat goeie sekuriteitsmaatreëls, betroubare 24/7 kliëntediens bied, ‘n goeie reputasie aanlyn het, en plaaslike banke ondersteun. Nie-toesighoudende beursies, soos Exodus, MetaMask, of Trust Wallet is van die gewildste opsies, bied privaatheid, en is veilige slotte op die blokketting en slegs jy het die sleutels.
Die realiteit is dat nie almal gemaklik daarmee is om hulle digitale bates vanlyn of in koue-beursies te berg nie. Nie almal kan hardeware veilig stoor nie, selfs al is dit in die vorm van ‘n ring aan jou vinger! Indien jy ‘n warm-beursie verkies sonder dat ‘n derde party inslae het, lees ons blad oor toesighoudende teenoor nie-toesighoudende beursies vir meer insig.
Ruiloortredings
Groot beurse soos Mount GOX het al sedert 2014 biljarde in kripto-waarde ‘misplaas’ en Bybit se ruiloortredings het ook groot skade vir beleggers veroorsaak. As gevolg van FTX se bedrieglike aktiwiteite is miljoene in kripto verlore. Hier is wat jy kan doen om jou bates te beskerm:
- Moenie groot hoeveelhede Bitcoin op uitruil platforms hou nie.
- Onttrek na jou eie beursie nadat jy gekoop het.
- Berg jou kripto-geldeenhede in ‘n hardeware beursie.
Om die risiko’s te ken, is die eerste stap om hierdie algemene Bitcoin-sekuriteitsbedreigings te vermy.

Top Hardeware-Beursie Opsies
Hardeware-beursies bied een van die beste maniere om Bitcoin te stoor. Hulle hou jou private sleutels vanlyn en buite bereik van kuberkrakers. Hier is ‘n paar goeie keuses vir veilige koelberging met hul pryse en belangrikste verkoopspunte:
- YubiKey Sekuriteitsleutel C NFC (R600+)
- Werk vir veilige aanmeldings en webdienste.
- Tik-en-gaan sekuriteit met USB-C of NFC.
- Draagbaar as sleutelhouer.
- ‘n Bekostigbare hardeware-opsie vir beginners.
- Tangem Kaart-pakket (R1,200+)
- Twee kaarte: een beursie, een rugsteun.
- Beskerm met ‘n wagwoord.
- Ondersteun meer as 5,000 kripto tipes en NFT’s.
- Gesertifiseerde sekuriteitskyfie gebou met Samsung-tegnologie.
- Ledger Nano S Plus (R2,400+)
- Betroubare handelsmerk in kripto.
- USB-toestel.
- Werk met Ledger Live toepassing.
- Tangem Ring Crypto Wallet (R2,700+)
- Stylvolle ringontwerp met twee rugsteunkaarte.
- Gebruik gevorderde slim rugsteuntegnologie.
- Geen drade of rekenaar is nodig nie; dit werk met jou foon.
- Trezor Safe 5 (R4,000+)
- Hoë-eind toestel.
- Raakskerm en gevorderde beskerming.
- Baie duursaam en betroubare kwaliteit.
Die meeste van hierdie opsies is aanlyn beskikbaar (soos Takelot, SA Crypto Miners, en CryptoVault) of te koop by jou plaaslike rekenaar hardeware winkel (soos Incredible Connection, HiFi Corp, en Makro).
Hierdie hardware beursies is gebou vir langtermyn sekuriteit en gemoedsrus. Geen batterye of konstante sagtewate opdaterings nodig nie.

Hoe om Hardeware-Beursies te Gebruik vir Maksimum Sekuriteit
Hardeware-beursies is ‘n goue standaard vir Bitcoin-sekuriteit—maar slegs as dit korrek gebruik word. Om die meeste uit hierdie toestelle te kry, moet jy spesifieke beste praktyke volg. Volg hierdie maklike stap-vir-stap gids vir maksimum sekuriteit:
Stap 1: Stel Dit Op in ‘n Veilige Omgewing
Begin deur jou hardeware-beursie in ‘n skoon, vanlyn, en veilige ruimte op te stel. Vermy openbare internet of “open Wi-Fi” en maak seker dat jou rekenaar wanwarevry is. Tydens opstelling sal die toestel ‘n private sleutel en saadfrase genereer. Hierdie moet nooit gedeel of gefotografeer word nie.
Stap 2: Skryf Jou Saadfrase Dadelik Neer
Wanneer jy gevra word, skryf die 12- of 24-woord saadfrase op papier neer of graveer dit op ‘n metaalrugsteun. Dit is jou reddingsboei vir beursie herstel. Moet dit nooit op wolkaandrywers (“cloud storage”), e-posse, of digitale notas stoor nie. As jou hardeware-beursie verlore raak of beskadig is, is die saadfrase die enigste manier om jou fondse te herwin.
Stap 3: Gebruik ‘n Sterk PIN-Kode
Stel altyd ‘n sterk PIN-kode op jou toestel. Maak dit lank, lukraak (of “random”), en moeilik om te raai. Hierdie PIN beskerm jou beursie as die toestel ooit gesteel word. Moet dit nooit met iemand deel nie, selfs nie mense wat jy vertrou nie.
Stap 4: Hou Jou “Firmware” Opgedateer
Firmware (fermware of fermatuur in Afrikaans) is die interne sagteware wat jou hardeware-beursie bestuur. Kyk gereeld vir opdaterings vanaf die vervaardiger se amptelike webwerf. Dateer pleister-kwesbaarhede (of “patch vulnerabilities”) op en verbeter algehele sekuriteit. Laastens, verifieer altyd opdateringsbronne om die installering van kwaadwillige sagteware te vermy.
Stap 5. Moenie Aan Onbekende Toestelle Koppel Nie
Koppel net jou hardeware-beursie aan betroubare rekenaars. As jy ‘n nuwe toestel moet gebruik, maak seker dit is virusvry en het geen verdagte toepassings of uitbreidings nie. Vermy internet-kafees of gedeelde stelsels, en moet nooit oop internetpunte vertrou nie.
Stap 6. Toets Jou Herstelproses
Voordat jy aansienlik baie fondse stoor, doen ‘n hersteltoets deur jou saadfrase en ‘n ekstra toestel of herstelomgewing te gebruik. Maak seker dat jy jou beursie suksesvol kan herstel. Dit verseker dat jou rugsteun reg en werklik ‘werk’ wanneer jy dit die nodigste het.
‘n Hardeware-beursie is een van die betroubaarste maniere om volle beheer oor jou Bitcoin-sekuriteit te neem.

Die Rol van Multi-Handtekening Kripto-Beursies in Sekuriteit
Multi-handtekening kripto-beursies (of “multi-sig”) voeg ‘n ekstra laag beskerming by. Hulle benodig meer as een goedkeuring om ‘n transaksie te voltooi, wat ongemagtigde toegang aansienlik moeiliker maak.
Hoe Werk Multi-Sig Kripto-Beursies
Multi-sig-beursies laat jou ‘n stelsel opstel waar verskeie partye moet afteken voordat enige Bitcoin gestuur kan word. Byvoorbeeld, jy kan ‘n beursie skep wat 2 uit 3 of 3 uit 5 gebruikers vereis om ‘n transaksie goed te keur.
Hierdie model beskerm teen enkelpunt mislukking. As een sleutel gekompromitteer of verloor word, is die beursie steeds veilig omdat ander ondertekenaars nodig is om enige beweging van fondse te magtig. Dit word wyd gebruik in maatskappy skatkissies, kripto-opstarters, DAO’s, en selfs onder vriende of families wat gedeelde fondse bestuur.
Voordele van Multi-Sig Wallets
- Voorkom Enkelpunt Mislukking: Niemand kan die beursie sonder konsensus dreineer nie.
- Verminder Uitvissing en Diefstal Risiko: Gesteelde sleutels alleen is nie genoeg vir aanvallers nie.
- Maak Samewerkende Bewaring Moontlik: Gedeelde beheer is ideaal vir spanne, paartjies of gesinne.
- Nuttig in Erfenisbeplanning: Multi-sig kan herstel met betroubare partye toelaat, selfs na jou afsterfte.
Dinge Om in Gedagte te Hou
- Gebruik dit net met mense of entiteite wat jy diep vertrou. Een skelm ondertekenaar kan toegang vertraag of blokkeer.
- Alle ondertekenaars moet verstaan hoe die beursie-opstelling werk, insluitend die herstelopsies.
- Herstelprosedures kan meer kompleks wees, so dokumenteer alles duidelik en stoor die instruksies veilig.
Multi-handtekening-beursies is ‘n uitstekende opsie vir diegene wat aansienlike hoeveelhede Bitcoin bestuur of gedeelde toegang benodig. Met noukeurige opstelling bied hulle sekuriteit van wêreldgehalte.

Gereelde Sekuriteitsoudits en -Opdaterings
Dit is nie moeilik om jou Bitcoin te beskerm nie, maar dit verg moeite. Net soos jou foon of rekenaar, benodig jou beursie-sagteware en hardeware gereelde opdaterings. Hierdie opdaterings maak foute reg, verbeter werkverrigting en verwerkingspoed, en blokkeer nuwe bedreigings wat mettertyd opduik.
Waarom Opdaterings Saak Maak
- Verouderde sagteware bevat dikwels bekende kwesbaarhede.
- “Hackers” soek spesifiek gebruikers wat ou weergawes gebruik.
- Nuwe opdaterings kan belangrike sekuriteitsreëlings en versoenbaarheidsoplossings insluit.
Wat Om Op te Dateer
- Jou Bitcoin-beursie-toepassing of rekenaarsagteware.
- Die bedryfstelsel van die toestel (waarop jy die beursie gebruik).
- Blaaier-uitbreidings en enige derdeparty-kripto-instrumente.
- Firmware vir jou hardeware-beursies, indien van toepassing.
Wanneer Om te Oudit
- Doen ‘n beursie-oudit een keer per maand, of na elke groot transaksie.
- Gaan transaksies na vir verdagte aktiwiteite of ongemagtigde toegang.
- Voer wanware-skanderings uit op alle toestelle wat aan jou Bitcoin-besit gekoppel is.
- Hersien beursie-rugsteunintegriteit, toets of jy dit kan herstel.
Deur sagteware op datum te hou en gereelde oudits uit te voer, bly jy verskeie stappe vóór kubermisdadigers. Dit is ‘n gewoonte wat minute neem, maar bates beskerm wat ‘n leeftyd werd kan wees! Gebruik die gereedskap en wenke in hierdie gids en jy sal altyd ‘n stap of twee voor kuberkrakers en swendelary bly.
Gereelde Vrae
Wat is die veiligste manier om Bitcoin te stoor?
’n Koue hardeware-beursie is die veiligste manier. Dit hou jou sleutels vanlyn en veilig teen “hackers”.
Kan ek my Bitcoin vir altyd verloor?
Ja, as jy jou private sleutel of saadfrase verloor sonder enige rugsteun, is jou Bitcoin vir altyd weg.
Moet ek ‘n mobiele beursie gebruik?
Jy kan, maar slegs vir klein bedrae of daaglikse besteding. Skuif die res na koue stoor.
Wat is ‘n saadfrase?
Dit is ‘n lys woorde waarmee jy jou beursie kan herwin as jy dit verloor. Die frase word gewoonlik net een keer (by opstel) gebruik, so dit is belangrik om dit veilig te stoor.
Is Bitcoin-beursies gratis?
Sommige warm beursies is gratis om af te laai, maar koue hardeware-beursies moet gekoop word en bied meer sekuriteit.
